‘n Swakte vir Fudge – deur Karin Stoffberg

Ek weet nie presies waar dit begin het nie, maar skat ek was nog op laerskool. Dit is nou my swakte vir fudge. My broer en susters sal nou nog vertel hoe ek gedurig fudge gemaak het. Die resep op die foto, nog in ponde en onse, is een van die eerste resepte wat ek gebruik het. Ek beskou myself as ‘n fudgekenner. Ek meen ek het al baie fudge vir ‘n kerkbasaar gemaak. As iemand noem sy het ‘n lekker fudgeresep wat mens sommer in die mikrogolfoond maak, dan keer ek. Fudge moet stadig kook, fudge moet …. . Ek weet fudge kan nie gesond wees nie, maar die romerige blokkies wat in jou mond smelt, kom by niks nie. Ek kan myself net eenvoudig nie keer nie.
By Sedgefieldmark in die Kaap is daar ‘n stalletjie met ‘n verskeidenheid van soorte fudge, met proe-stukkies by elke soort. Ek proe gewoonlik aan almal, ek kan net nie besluit watter een om te koop nie. By die Voriemôl in Pierneefstraat is Lidia se fudge, absoluut onweerstaanbaar. Ek sluit my besoek gewoonlik af met: “En sit sommer ‘n pakkie fudge by my aankope”.
Onlangs stap ek vroegoggend my eerste dag in Chicago in Michiganlaan oppad om ‘n lekker Cappucinno te koop, soos die meeste Amerikaners vroegoggend doen. Ek stap verby ‘n lekkergoedwinkel, gelukkig nog toe. Ek staar deur die winkelvenster – allerhande tuisgemaakte sjokolade, fudge, klapperys. Ek kan nie wag dat die winkel oop maak nie!
Saterdag is ek by ‘n tuisnywerheid op ‘n platellandse dorpie in Mpumalanga. Ek sit my pakkie neer. Ek sien die glashouer met goudbruin blokkies fudge. “Sal dit al wees”, vra die vrou. “Nee sê ek, kan ek asseblief ‘n blokkie fudge ook kry”. Ek kyk die vrou in die oë en sê verskonend: “Een van my swaktes”. Ek proe – te suikerig, nie so lekker nie. Ek besef net daar en dan Lidia Hendriks se fudge in die Voriemôl is die lekkerste fudge in die hele wêreld – verseker!

Share your thoughts